Hierdie is 'n kortverhaal deur Heide Slabber wat deur haar suster na my verwys is om deur te kyk. Sal graag wil hoor wat julle daarvan dink.
Die two-tone kombi
Ek wonder watter soort kar die Heer sou gery het. Seker 'n kombi van some sort, Hy het after all twaalf meelopers gehad wat hom altyd vergesel het ...
Dit sou nie 'n nuwe kombi gewees het nie, so 'n two-tone 1970-ene, tweedehands gekoop in Jbay eenkeer toe Hy 'n stranddiens vir die tjokkavangers van die Eastern Cape gaan hou het. Daar neffens Paradysstrand het Hy en die twaalf mos elke jaar gaan evangeliseer.
Sou die kombi probleme gegee het? Vir seker. Sommer baie ook. Mens sou regtig geloof moes hê het om ver pad met dié kombi te ry. Nie dat daar seker 'n tekort aan geloof was nie, so tussen die twaalf en Homself.
Ek dink nie daar sou stickers op gewees het nie. Jesus was nie die sticker-tipe nie. Nie soos die Christene van vandag nie. 'n Sticker op jou kar ... Saw Christ At Work ... maar jy draai dwars voor my in by die verkeersirkel, jou dom etter. 'n Sticker op jou boeksak ... WWJD. Ja, what would Jesus do when some poor down and outie asked him for R3 outside McDonald's? Would He really tell the guy to bugger off and not be a nuisance, like you with your WWJD-sticker on your schoolbag?
Miskien sou Petrus net so vir die fun daarvan die kombi 'n naam gegee het. Iets soos Apostool, siende dat die ding op geloof geloop het. Petrus het ook seker meeste van die tyd bestuur. Judas het die petrolkaart en Master card in sy wallet gehad.
Lukas, die stil ene, het altyd heel agter gesit. Reistyd deur die land was sy swottyd. Hy was nog besig met sy meestersgraad in die geskiedenis van die vroeë kerk.
Musiek sou hul vir seker in die kombi geluister het. Maar nie altyd die gewyde orrelpype van die kerk nie. Nee, hemel, daarvoor was Jesus darem heeltemal te with it. En Johannes – nee, nie Kerkorrel nie, die dissipel – het juis 'n swak plek gehad vir alternatiewe musiek. Ek dink selfs ou Steve Hofmeyr sou 'n beurt gekry het op die langpad. Wie het dan 'n softer spot vir die hoereerders en fornicators onder ons as die liewe Heer homself?
Dit was juis met die laaste kabaal oor Steve se lang buite-egtelike verhouding, toe hy Jesus saam Caprivi toe genooi het vir 'n bosberaad en private counseling, dat hy sy latest CD vir Hom gegee het. Petrus was nie saam nie. Sy en Steve se persoonlikhede is net te eenders. Jy praat uit jou beurt uit, en Petrus kap jou oor af. Steve? Wel, ou Steve gryp jou aan die keel en vertel jou 'n ding of twee. Nee, Jesus het vir Petrus aangesê om Apostool te overall terwyl Hy weg is Caprivi toe. Een loose cannon was genoeg vir die Meester.
Hitchhikers het hulle altyd 'n lift gegee. Dit was in 94 met die groot verkiesing wat hul terug Vrystaat toe moes gaan dat hulle haar opgelaai het. Jesus was in die Bethlehem-distrik as kieser geregistreer en moes daar gaan stem. Ja, natuurlik het Hy gestem. Sy taxes ook betaal. Het jy al vergeet wat Hy gesê het van gee die keiser wat die keiser toekom?
SARS het hom dan ook jaarliks gevra om 'n miracle of twee vir hulle te kom doen. Ek meen, met ons almal wat die oorvloed wegsteek en kromgetrek net twee vissies en vyf broodjies uithaal as SARS 'n draai kom maak, moes die Meester ingryp en die karige vissies en broodjies vermeerder sodat skole gebou en HOP-huise geverf kon raak in die nuwe jaar. En as Hy sou wegry, het Trevor en Tito altyd die twaalf mandjies vol oorskot geneem en in die parlement gaan getuig oor hoe groot die wonderwerk dié keer was...
Anyway, terug by die hitchhiker op die Winburg-pad. Dit was sterk skemer. Petrus was al kisboude gesit, en Apostool het vroeër net duskant Hanover die eerste keer begin overheat. Matteus en Lukas het mekaar aangevat oor die presiese dag toe Jesus die spul uit die Moedergemeente by Bapsfontein gejaag het. Waar het jy nou al gehoor dat die kerkraad die kerk Saterdae uithuur en dit aan 'n spul wat vlooimark hou tot wie weet watter tyd? Nie dat die gemeente nie gekla het nie. Sondag vir Sondag het jy óf in ganskak óf op boerbokdrolle getrap, van gister se organic free-range livestock wat gesmous is op die vlooimark.
Jesus was vas aan die slaap – oormoeg; op gepreek. Dit was die gereddes, die pastore, die predikante, Fariseërs, skrifgeleerdes en dies meer wat Hom die hardste tyd gegee het. Heel laasweek was dit sinode in Moreletapark en Jesus was so moeg van luister na die debatte oor of gays ook die ewigheid kan beërwe, dat Hy omtrent die hele pad Vrystaat toe geslaap het.
Johannes, wat saggies saam met Juanita du Plessis Houtkruis gesing het, het eerste die bliksemstrale gesien. "Ou Petrus, hier kom 'n helse storm, my broer…" En dis net toe dat die haeldruppels op Apostool neerslaan. Groot soos duifeiers, aanhoudend. Skielik is daar 'n rukwind en nog bliksem en donderweer. Petrus raak benoud, Apostool se bande is hoeka effe te glad, en toe, net toe, sien hy die vrou.
In die middel van die pad staan sy, deurnat. Leermini en fishnet stockings klou aan haar koue, nat lyf vas. Haar wit hemp is geskeur. Petrus swaai uit, ou Apostool gly oor die teerpad, swenk na regs, toe na links, en skielik besef Johannes hulle gaan die kombi rol…
"Here, Here, word wakker asseblief," soebat hy. "Hou, Petrus, hou, my maat. Jesus, dêmmit, word wakker!"
Hulle kom so seshonderd meter verder tot stilstand. Apostool twee keer gerol. Wonderwerk dat niemand seergekry het nie. Almal klim uit, Jesus eerste.
Die wind gaan lê. Die reën en hael trek weg, en 'n stilte sak oor die pad neer. Half magical, sacredly quiet.
Jesus kyk hoe die reën wegtrek en sien haar nader gestap kom: die geskeurde hemp, die bloedspatsels teen haar voorkop, die cheap maskara wat teen haar wang afloop, die hot cherry lipstick dik geplak op die lippe van verderf. Kaalvoet, handsak oor die skouer, braloos, genadeloos, Godloos, kom sy aangestap.
Petrus klap Apostool se enjinkap toe, vee sy hande aan sy Levi's af en staan nader. Die broer van Jesus herinner Hom aan die laaste keer toe Hy hom oor 'n hitchhiker ontferm het. Judas sukkel nou nog om die overdraft afbetaal te kry. Credit card fraud happens to the holiest of us.
Sy praat nie, sy kyk hom nie in die oë nie; sy stap tot voor hom, drop haar handsak en sak inmekaar neer. Arms om sy kuite, kop wat slap hang, hou sy aan hom vas.
En daar op die Winburg-pad, met die reuk van 'n geploegde land wat so pas reën gekry het, die swart vrugbare grond gereed vir die saad om op goeie grond te val, breek sy die stilte.
"Jy lyk soos die man wat siekes gesond maak, blindes laat sien en kreupeles laat loop," sê-vra sy vir Hom.
"Ek is wie ek is," antwoord Hy haar.
"Ek het jou al op TV gesien," sê sy. "Ek het gesien hoe jy die klein dogtertjie wat dood was, wakker gemaak het. Ek het gehuil toe ek sien hoe bly haar pa oor haar is. Ek wens my pa kon so bly oor my gewees het," grynslag sy hardop.
Petrus buk af, help haar regop. Jesus lig haar kop op, hou sy hand onder haar kennebak, dwing haar om Hom in die oë te kyk.
"Jy is beeldskoon, jy is smarag-mooi," prewel Hy vir haar. "En jou Hemelse Pa is vanaand net so bly oor jou, wat wakker geword het."
Dis nanag toe hulle in Bethlehem stilhou. Iets het fout gegaan met die online bookings by die Maluti Lodge waar hul sou tuisgaan, en al die ander gastehuise is vol. Die manne is moeg, die gemoedere glad nie goed nie. Johannes is honger, Petrus is vies. Gaan die hoervrou nou weer meer aandag as hy kry?
Jesus raak stil, maak sy oë toe en buig sy hoof, gesels met sy Pa, en dis toe dat sy weer vir die eerste keer iets sê hier langs hom: "Ek het 'n niggie hier op die dorp, eintlik so drie kilometer uit op die Clarens-pad. Sy woon op 'n hoewe. Miskien kan julle by haar tuisgaan."
Die niggies is só bly om mekaar te sien. Die swaar reuk van wierook dwarrel verby die twee omhelsende vroue en verdwyn in die naglug.
"Ek verwag nog 'n paar kliënte vanaand," verduidelik sy verbouereerd aan die dissipels. "Manne wat afkom van Johannesburg om te kom stem. Gereelde kliënte van my. Die afsprake is al laasweek gemaak."
Skielik draai sy na haar niggie en sê: "Jy kan mos help. Dis goeie geld. Dis ryk mans."
Sy gaan haal drie lanterns en 'n witbrood, fles koffie, en stap met hulle skuur toe. "Jammer, maar dis al wat ek julle kan aanbied," offer sy skaam die skuur aan hulle.
Jesus maak die deur oop. Hooibale en die reuk van vars hoendermis nooi hulle binne. Déjà vu, dink Hy by homself. "Dis asof ek al hier was," gesels Hy met haar terwyl hulle die hooi oopkrap en ingesettle raak.
Sensing hoe moeg Hy is, soek sy in haar handsak, haal 'n glasbotteltjie uit. Sy kniel by sy voete, trek sy Crocs uit en gooi die arnica-olie oor sy voete. Sagkuns, met 'n bekendheid vir die ritme, masseer sy sy moeë voete. Die reuk versprei vinnig deur die skuur en meng met die aardse reuke van hooi en dier.
Hy slaap vas toe sy klaar is. Sy gooi hom toe en gaan lê 'n entjie weg... Sy sien die karligte wat die hoek van die skuur verlig. Hulle draai na die huis se kant toe. Deure gaan oop en toe. Sy hoor die grotkoue geforseerde lag en ontvangs wat haar niggie die manne gee. Vir die eerste keer in jare, het sy die behoefte om te bid.
"Our Father who is in Heaven
Hallow be Thy name
Thy Kingdom come
Thy will be done…
...daily bread and forgive me my sins. For they are many and I am sorry…
...lead me not back to temptation but please deliver me from evil…
... for Thine is the Kingdom ... Amen."
07-05-2008
Heide Slabber
