Lead

Nov 11 11 10:54 AM

Tags : :


Vir Hannes de Jager, ryk sakeman van Johannesburg, was daar geen middeweg nie. Vir hom is ’n ding nét swart of wit.  Sy persoonlikheid sou nie ’n probleem gewees het nie. Maar toe trou hy met Marie Coertzen, wat  dieselfde ontoegeeflike persoonlikheid as hy gehad het.

               Vir elke man op aarde is daar seker die regte vrou en vise versa maar as in ag geneem word dat daar 7 biljoen mense op aarde is - wat is die kanse dat jy die regte vrou of man sal ontmoet? Dit is die rede dat  egskeidings howe oorvol is.

               In die lewe van hierdie twee mense was daar dus geen middeweg nie. Geen kompromie nie. Daarom kon daar net een uitweg wees. Of liefde of haat. In die geval van Mnr. en Mev. de Jager was dit haat. ’n Bittere ontoegeeflike haat. ’n Haat wat in die loop van jare gegroei het soos ’n donderstorm. Swaarder en swaarder het die donker wolke saamgepak. Donder en blitse het al hoe vinniger op mekaar gevolg. Die uitbarsting was naby.

               Hannes en Marie was vooraanstaande mense. Daar was op die oog af geen rede om te skei nie. Hy was beter as die gewone man op straat. Alles wat hy gedoen het, was volgens die boek. Aan haar kant presies dieselfde. Daar was geen rede wat enige een van hulle sou kon aanvoer om te skei nie. Gooi nou religieuse geloof ook in die pot en jy het ’n liederlike brousel vir moord. Hannes het besluit dat hy van sy vrou gaan ontslae raak. Hy kan nie van haar skei nie, want dit is teen hulle geloof. Hy kon in elk geval nie sy besighede net oppak en weggaan nie. Haar die helfte gee nie.

               Of Hannes mal was toe hy besluit het om sy vrou te vermoor sal niemand weet nie. Die slinkse manier wat hy uitgedink het om die moord na ’n ongeluk te laat lyk dui egter aan dat hy nie normaal was nie.

               Marie het geweet hoe haar man oor haar voel. Haar haat vir hóm was baie erger as wat hy ooit kon droom. Sy het hom nooit ’n kans gegee om alleen te wees nie.  As sy nie alewig aangedring het om saam na elke funksie of geleentheid te gaan nie sou hy dalk nie eers aan moord gedink het nie. Toe hy haar verwittig dat hy Drakensberge toe gaan vir ’n wegbreek naweek het hy geweet dat sy saam sal gaan.

               Die hotel wat hy gekies het, is hoog  in die berg. ’n Klipperige grondpad klim kreunend teen die berg op tot ’n hoogte van 2176 meter bo seespieël, waar dit dan teen die hotel vasloop. Die uitsig vanaf die Eagle’s Nest Hotel is ongelooflik mooi. Groen klowe met mistige pieke in die vêrte. Stap paadjies is aangelê wat vêrder teen die berg uit kronkel. Party is gevaarlik en ander minder so. Oor klein stroompies onder digte varingbome verby. Daar is uitkyk punte waar jy kan rus, teen kranse kan afkyk na hutte wat soos speelgoed huisies vêr onder jou staan. ’n Rivier wat soos ’n blink potlood streep langs die hutte verby kronkel.

               Hannes ken die hotel. Voor hy Marie ontmoet het, was hy hier saam met ’n paar vriende. Dit was jare gelede maar hy kan die plek  goed onthou. Daar is ’n spesifieke voetslaanpad wat hy nie sal vergeet nie. Die pad het nie steil begin klim soos die ander nie. Die eerste uitkykpunt was  2 km van die hotel af. ’n Lae klipmuur om die voetslaners weg te hou van die helse afgrond af. Hy wonder of dit nog daar is. Vêr onder was daar rotse en bome wat so ruig was dat jy nie daardeur kon sien nie. Halfvyf die volgende oggend glip hy by die hotel uit en stap soos hy kan onthou. Die klipmuur het verbrokkel. Hy staan en bespied die wêreld. Agter hom is ’n hoë rotsbank. Voor hom is daar oop ruimte waar grys wolke draai en maal. Hy stap nader na die einde van die afgrond. Kyk af en dadelik weer op. Sy bene raak lig. Rotse en bome soos hy dit nog kan onthou. Daar is ’n groot rots wat jy moet verby van die hotel se kant af. Niemand sal hulle van daar af kan sien nie. Dit is die plek. Môreoggend is die tyd. Sonbesies begin sing toe hy rustig terugstap hotel toe.

               Daar was geen genade in sy hart vir hierdie vrou nie. Die plan was ingeëts in sy kop.

               “Wil jy saamkom?” vra hy die volgende oggend na ontbyt.              

               “Ja,” antwoord sy.

               “Ek wil negeuur loop”

               “Sal reg wees.” mompel sy en stap kamer toe om klaar te gaan maak.

               Niemand sê ’n woord terwyl hulle stap nie. Sy loop skuins agter hom. Ek gaan netnou  hierdie pad alleen terug loop dink Hannes terwyl hy oor sy skouer kyk of sy nog aankom. Wonder of sy dalk ’n voorgevoel het. Die mens se onderbewussyn is mos snaaks. Praat met mekaar al word daar niks gesê nie.

               Hy het geen spesifieke plan as hulle by die uitkyk punt kom nie. Hy sal  volgens  omstandighede optree. ’n Krieweling laat sy nekhare regop staan. Sê nou sy klou aan hom vas en hulle neuk al twee oor die afgrond. Hy sal net versigtig moet wees. Haar onverhoeds vang. Hy gee nie om as sy gil nie. Niemand sal hoor nie. Dit is te vêr van die hotel af. Daar het in elk geval geen ander stappers te kenne gegee dat hulle vanmôre gaan stap nie. Die mistige reënweer het ’n stokkie daarvoor gesteek.

               Vreemd genoeg, by die rusplek begin sy stadiger loop. Sy gaan staan. ’n Rilling trek deur haar lyf.

               “Wat is fout? Is jy moeg?” vra hy moerig.

               “Hannes.” Dit is die eerste keer in jare dat sy hom op sy naam noem. “Dink jy nie ons lewens kon anders gewees het as jy van die begin af meer vriendeliker met my gewees het nie? As jy nie soveel reëls gemaak het nie?”

               Hy grynslag. “Dit is nou ’n bietjie laat om oor jare terug te praat, of hoe liefie,”  sê hy met openlike sarkasme.

               “Ek wil net sê  ek het baie berou.” Haar stem hang trillend in die koel bries. ”En jy, het jy enige berou?”

               “Nee” sê hy skor. “Ek het geen berou nie.”

               “Dan is dit reg Hannes. Ek het jou nou nét ’n laaste kans gegee. Dit moet jy vir altyd onthou.”

               Sy oë trek op skrefies. “Wat bedoel jy met laaste kans? Ek het geen kans of enigiets van jóú nodig nie. Ek het niks nodig van iemand wat ek haat, soos ek jou haat nie. Ons was as een saamgevoeg. Jy het alles in jou vermoë probeer om dit so ondraaglik as moontlik te maak.”

               “Ja, ons is saamgevoeg Hannes… ja saamgevoeg tot die dood ons skei.”

               Hoe kon sy weet, flits dit deur sy brein. Hy sal moet gou speel. Hulle staan by die verbrokkelde muur. Sy trek haar sweetpakbaadjie uit en gooi dit op die muur. Hy gaan sit op die muur.

               “Kom sit hier.” Sy hand bewe liggies. Wys haar om langs hom te kom sit.

               Sy loop heen en weer voor hom. Kop onderstebo. Haar hande gaan oop en toe. Trane rol teen haar wange af.

               Toe sy na hom kyk sien Hannes iets wat hy nog nooit in Marie gesien het nie.

               “Jy lyk soos ’n bleddie mal dier. Kom sit hier vroumens.”

               “Ek lyk soos ’n mal dier, jou sot, want ek voel soos ’n mal dier. Jy het my gesê hoe jy my haat. Jy is ’n man. Jou haat is niks in vergelyking met my haat vir jóú nie. Soveel as wat jy die band wat ons saamgevoeg het, wil verbreek Hannes de Jager weet ek dat jy nie so laag sal daal nie. Ek weet daar is nie moord in jou hart nie, maar daar is moord in myne. Vandag gaan ek jou wys hoeveel ek jou haat, jóú vark.”

               Sy oë rek toe sy moord noem. Senuweeagtig grou hy om ’n klip los te kry. Hy gaan haar oor die kop slaan. Dit is nou of nooit.

               “Ek het al my vriendinne vertel dat jy my wil vermoor.”

               “Goeie God, hoe kon jy só iets gaan rondvertel? Jy is van jou donderse kop af.”

               “Ek het dit gesê om jou te wys hoeveel ek jou haat - wat ek bereid is om te betaal vir wraak. Ek het die bestuurder by die hotel ook vertel. Hulle het probeer om my te stop om saam te stap, maar ek het aangedring. Twee sekuriteitswagte is op pad hierheen. Hulle gaan enige oomblik opdaag. Kyk of jy hulle gaan oortuig dat dit ’n ongeluk was.” Sy lag soos ’n besetene.

               Voor hom skeur sy haar bloes en gooi die stukke materiaal voor hom op die grond. Ruk haar krusifiks hangertjie af. Gooi dit ’n ent weg. Toe spring sy.

               Alles gebeur in stadige aksie voor hom. Hy probeer nog opstaan. Probeer haar keer. Haar gille weergalm oor die kranse, trek vêr deur die groen klowe.

               Die volgende oomblik storm twee mans om die rots en sien hom daar staan. Bewend met ’n stuk van haar bloes in sy hande.